KEUR | 1 MAART 1996 (p18-19)
deur Euna Easton | Foto’s: André Pretorius
Die spreekwoord maan dat ‘n mens nie iemand op sy baadjie moet takseer nie. Bepaald ook nie dié oulike meisiemens nie.
“Aksie!” skree die Amerikaanse regisseur en die kameras begin rol. Eintlik is dit net ‘n klein toneeltjie in Michael Douglas se The Ghost and the Darkness wat verfilm word. Maar dis belangrik … en gevaarlik.
Veral vir die mooi donkerkop-waaghals wat die maanhaarleeu moet voer. Die draaiboek vra dat die uitgevrete leeumannetjie uit haar hand moet eet. Alles gaan goed tot iets of iemand haar aandag aftrek. Voor sy haar hand uit die pad kan pluk, byt die groot geel slagtande haar raak.
“Sny!” gil die regisseur terwyl die bloed loop en die leeu se afrigters benoud nader storm om te keer dat hy ‘n groter hap neem.
Lee-Anne Liebenberg, Suid-Afrika se voorste vrouewaaghals, raak nie eens opgewonde as sy vertel van dié onderonsie met ‘n leeu op die The Ghost and the Darkness-stel naby Badplaas nie. “Jy sal die oerwoud nooit uit ‘n leeu kry nie,” sê sy nugter. Ná ‘n paar steke aan haar hand het sy die toneeltjie voltooi.
Om deur ‘n maanhaarleeu gekou te word, is immers deel van die loopbaan wat sy gekies het. Net soos dit is om deur ‘n volstruis gejaag of deur ‘n bom in die lug geblaas te word. Sy besef alte goed hoe gevaarlik dit is. “My ma hou nie van my werk nie,” erken sy. “Sy’s bang ek verongeluk. Natuurlik is ‘n mens se lewe op die spel – jy loop altyd gevaar om jou rug te breek, of minstens jou arms en bene. Versekering kry jy nie sommer nie.”
Niemand moet nou die verkeerde indruk staan en kry nie. Lee-Anne lyk nie soos Arnold Schwarzenegger se kleinsus nie – nie eens naasteby nie. In haar netjiese nr 5-steweltjies lyk die mynwerkersdogter uit Welkom se wêreld met die amperswart hare en die denimblou oë meer na die model wat sy op haar dag was as na ‘n vrou wat saam met die manne by kranse afduik en uit brandende motors spring.
As die geskeide ma van ‘n vierjarige seuntjie het sy egter ook al op die harde manier geleer dat sy nie sommer moet uitblaker wat sy vir ‘n lewe doen nie. Dit skrik mans beslis af.
En tog …
Sy is ook ‘n Springbok-skopbokser, Mej Vrystaat Kragvrou van 1989. Onder haar stokperdjies tel jag en visvang. Lang rooi naels het sy nie. Hulle is kortgeknip en sonder verf. “Ek kan mos nie op ‘n rolprentstel sê: ‘Oe, wag ‘n bietjie, ek het my nael gebreek!’ nie,” sê sy.
Haar manier van praat is soos een van die manne. “Op die stel mors die manne nie met my nie. Ek moet presteer soos een van hulle. Die waaghalswêreld is ‘n manswêreld waar ‘n vrou nie rêrig welkom is nie. Jy huil nóóit nie. Jy kry seer en jy gaan aan. Jy moet ‘n rowwe meisie wees.”
Die 30-jarige Lee-Anne se aksieloopbaan het in 1992 in Leon Schuster se fliek Zulu On My Stoep begin. Hier is sy onder meer deur ‘n volstruis gejaag, het aan ‘n rektou van ‘n brug afgespring, in ‘n emmer stroop geval en ‘n week lank op die stel rondgeloop met ‘n gesig wat toe was onder swart skoenpolitoer.
“Dit was vuil, maar ek het lekker geld gemaak,” onthou sy.
Sy is nou reeds besig met haar 21e produksie. Die onsekere lewe van ‘n waaghals ten spyt, kry sy genoeg werk. Sedert Zulu On My Stoep was sy waaghals en byspeler in Cyborg Cop 2, Egoli, Game 3, Sonkring, War Head, Africa PI en talle ander. Binnekort is sy te sien in ‘n reeks van 13 episodes op M-Net oor gladiators. Hiervoor moes sy in Engeland kragmanne en -vroue met spierpaleislywe gaan aandurf.
‘n Kleurige loopbaan voorwaar. “Ek is al doodgeskiet, gehang en opgeblaas in prente,” sê sy. Nie sleg vir ‘n meisie wat eers ‘n sekretaresse was nie!