Artikel oor Lee-Anne in die Februarie 2007 uitgawe van Wiel

Viets, vinning, vasberade


WIEL | FEBRUARIE 2007 (p90-91)
DEUR FERDI DE VOS


READ IN ENGLISH

Sou jy besluit om ‘n kursus in gevorderde bestuur by die Volkswagen Akademie by te woon, kan jy dalk net langs Lee-Anne Liebenberg beland. Nee, nie die model nie, die oorsprónklike Lee-Anne, ‘n vietse donkerkop wat letterlik vir niks skrik nie … Sy’t vir Ferdi de Vos van haar waaghals-lewe vertel.

Noem die naam Lee-Anne Liebenberg en menige warmbloedige man se oë begin skitter, want sy’s mos ‘n voorste plaaslike supermodel. Of hoe?

Wel, sy’s eintlik net ‘n “alter ego” vir die régte Lee-Anne Liebenberg – ‘n vrou wat deelnemers in die oospronklike Gladiators harde bene laat kou het en in tydskrif-advertensies gepryk het, steeds instaan vir Hollywood-sterre, uit brandende geboue spring en slegte ouens katswink skop, en so tussendeur ook macho mans leer ordentlik bestuur …

Want Lee-Anne is een van die instrukteurs by die Volkswagen Akademie op Kyalami (een van die gevorderde bestuurskole wat geakkrediteer is om die Shayelo Approved-kursus aan te bied) en saam met haar mede-instrukteurs bied hulle kursusse landwyd aan.

Sy’s egter ook ‘n truuk-koördineerder vir flieks, verantwoordelik vir die uitwerk en uitvoering van waaghals-toertjies vir vollengte-rolprente, ‘n sakevrou met haar eie maatskappy, Stunts 4 Reel, en haar eie sportklere-reeks genaamd Firefly.

Maar waar kom haar voorliefde vir adrenalien-ervarings vandaan?

“Van jonk af het ek als saam met my broers gedoen, selfs rugby gespeel, en hulle het my by al hul petaljes ingesleep. Ek was ‘n regte rabbedoe, en die feit dat ons naby die ou Goudveld-renbaan (deesdae Phakisa) grootgeword het, het baie met my liefde vir karre te doen.

“Van kleintyd wou ek ‘n aktrise word, maar ek was nog altyd ‘n adrenalin junkie, en my eerste kêrel het my in ‘n bakkie leer doughnuts doen,” vertel sy in ‘n gemaklike trant.

Sy het wel ‘n ruk vir die G3-agentskap modelwerk in Johannesburg gedoen, maar toe skopboks as sport, en ook vir selfverdediging, begin beoefen.

“Ek is nie gek oor gimnasiums nie, en skopboks het my fiks en soepel gehou.”

In só ‘n mate dat sy Springbokkleure in die sport verwerf het en gekeur is om aan die skopboks-wêreldkampioenskap in Amerika te gaan deelneem. ‘n Tekort aan geld het egter keer op keer beteken sy kon nie gaan nie.

In hierdie tyd het sy in TV-advertensies opgetree, en gou bekend geraak daarvoor dat sy ook “deure kan afskop”. Lee-Anne het gou gewys sy’t nie ‘n bang lang swart haar nie, en sy was as dubbelganger vir bekende Hollywood aktrises in flieks gebruik.

In There’s a Zulu on my Stoep van Leon Schuster (1993) is sy met rooi hare gedos as dubbelganger vir Terry Treas wat Rowena gespeel het, daarna het vele ander plaaslike, sowel as oorsese produksies gevolg – onder meer I Dreamed of Africa met Kim Basinger, The Cell met Jennifer Lopez, Species met Natasha Henstridge en Terminator IV waar haar hulp vir die gevaarlike en aksietonele ingeroep is. Sy was in Desember in die Kaap waar sy aan ‘n nuwe fliek, Doomsday, met Rhona Mitra, gewerk het.

Sy doen ook waaghals-bestuurwerk in flieks – “jy moet uiters presies wees, want daar’s gewoonlik net een geleentheid om die toneel te skiet, en ja, tyd is geld” – en haar betrokkenheid by die Akademie help baie hiermee. Maar wanneer het sy met bestuursinstruksie begin?

“Sowat vier jaar gelede het ek die instruksietoets by die Audi-bestuurskool geslaag en kortstondig as instrukteur gewerk voor ek Kaap toe getrek het – spesifiek om waaghals-werk te doen. Ek was egter ongelukkig daar, veral omdat my familie ver was, en is weer terug Gauteng toe. Die Volkswagen Akademie het my toe aangestel,” vertel sy.

By die Akademie is sy “een van die boys“. “Die ander instrukteurs aanvaar my vir wie ek is, en ek doen presies dieselfde werk. En dis vrek lekker.”

Maar hoe hanteer sy die oorwegend manlike kursusgangers se ego’s? “Nee wat, as jy vir hulle wys jy weet wat jy doen, is hulle gou stil en redelik bedeesd. Ek het nog nie probleme gehad nie,” sê sy.

Al meer vroulike instrukteurs word nou deur gevorderde bestuurskole gebruik en behalwe Lee-Anne is die voormalige renstelkampioen Tannith Gardner, asook die Formule Ford-jaer Jennifer Murray albei instrukteurs.

Snaaks genoeg, gegewe haar passie daarvoor, het Lee-Anne nog nie aan motorsport deelgeneem nie. “Ek wil bitter graag jaag, maar daar was nog nooit die geleentheid daarvoor nie. Hopelik sal ek nog ‘n kans kry …”

Intussen leef sy haar passie – tussen al haar ander adrenalien-bedrywighede – agter die stuur van ‘n wit GTI uit. En manne, as jy ooit langs die vietse Lee-Anne Liebenberg in daai GTI land, vergeet maar die aanmerkings, want dié vasberade vrou wéét wat sy doen in ‘n kar.

Posted in Wiel.