Voorblad van die 19 September 1997 uitgawe van Keur tydskrif

Ai! Nog ‘n Dag by die Werk


KEUR | 19 SEPTEMBER 1997 (p10-12)
deur Jacques Coetzee | Foto’s: Peter Whitfield


Vra vir Lee-Anne Liebenberg hoe háár dag by die werk verloop het en jy hoor ‘n effens ander storie as waarmee ander werkende vroue saans by die huis aankom.

“Aag, iemand het die trein opgeblaas. En toe skiet iemand op my. Toe spring ek by ‘n krans van veertig meter af; binne-in water. Maar dit was nie so erg soos die dag toe die leeu my gebyt het nie,” sal die pragtige donkerkop jou stellig vertel.

Of dalk vertel sy jou hoe sy en Dolf Lundgren by die werk gesels het en hoe lekker sy met Claire Stansfield klaarkom en hoe hulle met haar vorige kollegas vergelyk, soos Val Kilmer en Michael Douglas en Bo Derek.

Dis ‘n ander Lee-Anne Liebenberg as die een wat ‘n sekretaresse en model in Welkom se geweste was. Sy is deesdae ‘n professionele waaghals wat die gevaarlikste toertjies namens rolprentsterre doen. Hoe gevaarliker hoe beter, sê die fikse vrou wat vir geen man in dié bedryf terugstaan nie. “Ek’s ‘n chick met guts and balls.”

Terwyl ander vroue hulle bekommer oor ‘n nael wat afgebreek of ‘n kous wat geleer het, is dit vir Lee-Anne bloot roetine wanneer sy uit ‘n ontploffende trein die lug in geslinger word, wanneer op haar geskiet word en wanneer sy by hoë kranse afduik.

Sy werk nou aan Sweepers, ‘n internasionale aksierolprent met Dolf Lundgren in die hoofrol. Sy behartig die toertjies vir Claire Stansfield, wat ook in Drop Zone gespeel het. “Sy’s baie gaaf,” vertel Lee-Anne, “maar sy kan nie eens ‘n Jeep bestuur nie. Ek sal dus haar plek in baie tonele inneem.”

Sweepers word naby Johannesburg verfilm en sal later vanjaar deur Nu World Productions uitgereik word. Na raming sal sowat 120 miljoen mense dié rolprent sien.

Vir haar debuut as waaghals vyf jaar gelede is sy letterlik in die diep kant in gegooi. Sy moes agt keer ná mekaar van ‘n 40 meter hoë krans aan die diep kant van die Hartebeespoortdam spring. Dit het nie haar drie oefenspronge ingesluit nie.

Dié inlywing in die wêreld van spoed, gevaar en adrenalien was vir There’s a Zulu on my Stoep. Lee-Anne was die “dubbelganger” vir die rooikop Rowena, wat die rol van ‘n Nazi-booswig gespeel het.

Dat dié donkerkop met haar denimblou oë nie sonder handskoene aangepak moet word nie, besef die manne lankal. Sy het immers Springbokkleure in skopboks en was in 1993 vyfde in die World Association of Kickboxing Organisations se wêreldkampioenskappe by Donald Trump se Taj Mahal-dobbelhuis in Atlantic City.

Dis dié inskrywing op haar CV wat gedurende haar oudisie vir ‘n rolletjie in Zulu die aandag getrek het. Sedertdien is sy al menigmaal “doodgeskiet” en “opgeblaas” en het miljoene mense wêreldwyd haar sien “omkom”. Maar dan staan sy telkens uit die stof op om haar vir die volgende uitdaging voor te berei.

“Elke regisseur stel nuwe eise aan jou en elkeen wil asemrowender en realistieser waagtoertjies vir hul nuwe rolprente hê,” vertel Lee-Anne. “Dit kan soms gevaarlik wees, maar al die toertjies word deeglik beplan en geoefen. Die ergste wat jou kan oorkom, is ‘n gebreekte arm, been of enkel.”

Haar ergste oomblik voor die kameras was op die stel van The Ghost and the Darkness toe ‘n leeu haar hand amper verbrysel het. Sy het vooraf twee weke lank opleiding ontvang om met die maanhaar te werk. “Daarna was hulle oortuig dat die leeu aan my reuk gewoond is,” vertel sy.

“Toe hulle die hok oopmaak, storm die leeu op my af om ‘n stuk vleis uit my hand te gryp. Die derde keer het ek my hand nie vinnig genoeg weggeruk nie en hy het deur my hand gebyt. My hart het in my keel geklop maar ek kon darem kalm bly. Ek het gedink ek gaan twee van my vingers verloor.”

Dáárdie toertjie kon sy nie voltooi nie, erken sy.

“My kêrel vrees partykeer vir my lewe, maar hy weet hoe lief ek vir my werk is,” sê die spoedvraat wat soms ook manlike akteurs se toertjies doen. “Hy sal my nooit terughou nie, maar wanneer hy weet ek gaan die dag aan ‘n gevaarlike toertjie werk, kan hy nie by sy werk konsentreer nie. Daarom vertel ek hom deesdae maar liewer dis iets kleins wat ek gaan doen.”

Lee-Anne vertel trots dat haar vyfjarige seun, Marcell, haar “houding” geërf het. “Ek het hom geen toertjies geleer nie, maar hy is gedurig besig om sulke dinge te doen. Ek wil egter nie hê hy moet eendag dié rigting as beroep inslaan nie omdat ek weet hoe gevaarlik dit kan wees. Hy bly by sy pa in Durban en is my grootste fan; my alles!”

Lee-Anne was in 1989 Mej Vrystaatse Kragvrou en het al as Heart saam met Sahara, Delilah, Impi en Samson se kragmetings in Birmingham, Engeland deelgeneem.

Sy was ‘n waaghals en byspeler in Cyborg Cop 3, Danger Zone, Homeland, Delta Force: Critical Move, Panic Mechanic en The Epic Adventures of Tarzan. Daarby het sy saam met bekendes soos Bo Derek, Joe Lara, Billy Zane, Michael Douglas en Val Kilmer aan rolprente gewerk.

Posted in Keur.